Dr Theuns Eloff
Oorsigtelike CV
Theuns verwerf tussen 1972 en 1989 B-grade in regte en teologie, en ’n meestersgraad en doktorsgraad in teologie aan die destydse PU vir CHO.
Hy was predikant van die Gereformeerde Kerk Brooklyn-Pretoria, maar na die “Dakarsafari” in 1987, verlaat hy die bediening en word in 1990 hoof van die “Consultative Business Movement”. Hy was betrokke by die fasilitering en beplanning van die Nasionale Vredeskonvensie, was hoof van die Kodesa-sekretariaat en Administrasie van die Veelparty-onderhandelingsproses, en in 1995 hoof van die Nasionale Besigheidsinisiatief. In 2002 word hy rektor van sy alma mater. As eerste visekanselier van die nuwe Noordwes-Universiteit (2004) help hy om die gedwonge samesmelting tussen die PU vir CHO en die University of the North-West ’n sukses te maak. Tussen 2005 en 2013 is hy voorsitter van Hoër Onderwys SA, voorsitter van die Vereniging van Statebondsuniversiteite, voorsitter van Aardklop en president van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI). Hy is tans voorsitter van ’n paar organisasies: die Dagbreek Trust, die Trust vir Afrikaanse Onderwys en Astral Foods. Hy het verskeie toekennings ontvang, waaronder die JCI se Ten Outstanding Persons of the World en die Wêreld- Ekonomiese Forum se “100 Global Leaders for Tomorrow”, asook ’n eredoktorsgraad van London South Bank University. Hy is ’n buitengewone professor by die Potchefstroomse Besigheidskool. Theuns is getroud met Suzette en hulle woon in Pretoria. Hulle het twee dogters en drie kleindogters.