ATKV Woordveertjie Logo 2020

Die ATKV bekroon jaarliks, sedert 2008, uitstaande werk rondom die Afrikaanse woord en -literatuur. Die doel van die projek is om skrywers aan te moedig om in Afrikaans te skryf en om sodoende gewilde en gehaltewerk te bekroon.  Terselfdertyd wil ons, deur hierdie bekronings, die breë publiek se leeskultuur aanwakker en stimuleer. Die waarde van lees en die ervarings wat in boeke opgesluit lê, is alombekend.  Die Kinderboektoekennings is daarom ‘n baie belangrike afdeling van die Woordveertjies.  Daar is 8 Kinderboektoekennings waarvan die kinderlesers self die boeke beoordeel. Slegs die ATKV bekroon jaarliks kinderboekskrywers sowel as illustreerders, wat boonop deur die kinders self beoordeel word. Dit maak hierdie projek totaal uniek. Wat die Woordveertjies onderskei van ander boektoekennings, is dat ons toekennings nie uitsluitlik literêr van aard is nie, en ook unieke bekronings insluit, soos die Woordwystoekenning (vir woordeboeke en taalgidse); die Prys vir Spanningslektuur; die Prys vir Liefdesroman asook die Prys vir Romanses en –Poësie. Daarbenewens bekroon ons ook ‘n uitstaande Dramateks. Vanaf 2017 is daar ook ‘n toekenning vir Niefiksie. Die ATKV-Prosaprys word toegeken aan ‘n werk wat byval vind by die breër leserspubliek om te verseker dat leesbevordering hiermee aangewakker word. Een van die hoogtepunte, en uniek aan die Woordveertjies, is die Toekenning vir Leesbevordering. Dié Woordveertjie vir Leesbevordering is ’n inspirerende kategorie wat bewys watter verskil ’n unieke leesprogram kan maak in die lewens van kinders en bejaardes.