Voortrekkermonument

Die majestueuse Voortrekkermonument is in die noordelike deel van Suid-Afrika, in die Pretoria (Tshwane)-streek, in ‘n natuurreservaat geleë. Dié unieke Monument gedenk die pioniersgeskiedenis van suidelike Afrika en die geskiedenis van die Afrikaner en is in ‘n pragtige omgewing geleë. Die Monument is in 1949 ingewy. Dit is ontwerp deur argitek Gerard Moerdijk. In die Heldessaal is die wêreld se langste historiese marmerfries. ‘n Tapisserie met meer as drie miljoen steke word in die Senotaafsaal gehuisves. Die Monument is vandag die mees besoekte erfenisterrein van sy soort in Gauteng en een van die top tien kultuurhistoriese besienswaardighede in die land. Dit is ook die eerste Nasionale Erfenisgebied in Pretoria wat verklaar is. Die Monument bestuur ook die Bloedrivier Erfenisterrein.